Resensie-kompetisie: Trisa Hugo resenseer Buys

Buys van Willem Anker is 'n verskriklike boek! Tog het dit my geboei om oor die woestaard te lees, terwyl ek terselfdertyd afkeer teenoor die hoofkarakter voel. Die plunderaar, veelwywer, filosoof, hedonis, Coenraad de Buys wat ook saggies met 'n vlieg kon praat en 'n kruiekonkoksie maak om 'n kindjie se gebrande voetjies te versorg, is 'n skrikwekkendelike karakter. Ek dink ek is 'n bietjie verlief op hom.

Reeds as kinders was ons gefassineer deur hierdie karakter uit die geskiedenisboeke, Coenraad de Buys. Sy afstammelinge woon steeds in Buysdorp in Limpopo. Daar was min oor hierdie geskiedkundige figuur bekend, maar Willem Anker het die Jan Rabie en Marjorie Wallace beurs aangewend om vir twee jaar op Buys se spore te loop. Die karakter Buys het my net weer laat besef, die waarheid is inderdaad vreemder as fiksie. Dit krap aan 'n stukkie van my siel wat diep weggebêre is. Ek het kort-kort van die feite nageslaan en is verstom oor hoeveel van die geskiedenis daar is waarvan ek niks weet nie, soos bv die Hurutshes stam van ongeveer 200,000 mense wat in ʼn baie groot stad gewoon het (ten tye groter as Kaapstad) en yster en koper bewerk het. Dit is grootliks platgevee tydens oorloë met ander stamme en het die oorlewendes weggetrek na Botswana en ander dele.

Alles wat leef en beef is vreemdelinge op hierdie blou kluit. Die aarde verdra lewe, maar sy het dit nie gebaar nie. G’n wonder jy kan nie jou sit kry nie. G’n wonder jy voel nooit tuis nie. G’n wonder jy wil heeltyd uit- en wegvlieg. Styg maar op en bespied die wydtes: jy sal geen vaderland vind nie. Daar is spore in die sand en stories oor die spore en verder net verlange en wind.”

– Coenraad de Buys se woorde aan 'n vlieg.