Resensie-kompetisie: Yolandie Barnard resenseer Die dinge van 'n kind

Sommer met die intrapslag weet jy hierdie gaan ‘n lekker boek wees!  En dit stel nie teleur nie.  Om die hoofkarakter, Mart, se oorgang van jong, onskuldige meisie na “wêreldwyse” jong dame te volg, is ‘n avontuur.  Die storie gryp jou so aan, jy voel jy is vriende met Mart en haar beste vriendin Dalena.

Die dinge van ‘n kind is een van daardie boeke wat jy oor en oor kan lees en jy geniet dit elke keer.  Dit laat jou verlang na jou skooldae en na die opwinding van verlief wees en na “nights in white satin”.  Dit is ‘n baie nostalgiese boek waarmee veral dames baie mee kan assosieer.  Ek dink die meeste van ons het ‘n Dalena en ‘n Pine in ons lewe gehad.

Dit maak ook die grensoorlog van die 70’s meer werklik vir diegene wat nie self daardie era beleef het nie.  Jy verstaan die verwardheid van die eintlik seuns wat nou skielik as mans moet optree terwyl hulle in ‘n sinnelose oorlog betrokke is.  En die pyn van ‘n ma se hart wat haar seuntjie moet laat gaan en sy weet nie of hy weer gaan terugkom nie.

Die tonele word so goed beskryf, jy ruik die braaivleisvuur terwyl Mart se pa braai, jy voel hoe koud die swembadwater teen jou vel is na jy warm gebak is in die son, jy ruik die tropiese lug…  En die verwysing na musiek waarmee ons almal groot geword het, laat jou weer verlang na iemand wat jy nie ken nie (of dalk na daardie ou met wie jy ‘geclose dans’ het by ‘n garage partytjie…)

Marita van der Vyver slaag uitstekend daarin om jou heeltemal mee te sleur met die boek.  Jy kan dit nie neersit voor jy die laaste bladsy gelees het nie en selfs dan is jy effens teleurgestel dat die boek nie nog ‘n paar 100 bladsye langer was nie.  En dan laat dit jou met ‘n hartseer gevoel omdat ons almal die dinge van ‘n kind so gou moet agterlaat, soms as gevolg van omstandighede buite jou beheer.  Elke tienerdogter, ma en ouma behoort hierdie boek te lees.