snuif (ongepubliseerde gedig deur Bibi Slippers)

snuif

 

I am the cinnamon peeler’s wife. Smell me.
– Michael Ondaatje, “The Cinnamon Peeler”

 

 

bring nader jou neus.
snuif.

ek is
die vee-voeder se dogter
jy sal wol ruik en gras
aan die palms
van my hande en piesang
pynappel en die bedompige lug
van Natal in my pas-gewaste hare

ook chloor wanneer dit droogword
want ek was die swemkaptein
se skelm vry agter die pomphuis

daar’s skoenpolitoer
aan my vingerpunte en vanielje in my lies
só ruik die tamboermajoor se meisie
en die hoofseun se geheim

 die vae klank van kokosneut
wat aan my kuite klou
is bietjie surfer-ou wat by my bly
die seun wat wou doodgaan ’n kruitreuk
teen my slaap

 snuif maar aan my kuif: verhoogrook,
malvalekkers en swaar gordyn
ek was die regisseur se regterhand
en rusplek my rug ruik
soos boekrak en van êrens af
die aangename stank van rosyne en tabak

as dit byna bekend ruik in my nek
langs my geboortevlek
is dit omdat jou naamgenoot my gisteraand
nog daar gesoen het voor hy moes vertrek
met net julle naam gelos
jou naam en syne
en die reuklose reghoekigheid
van my kussingsloop

Foto: Sven Kristian

Foto: Sven Kristian

Wil jy 'n getekende eksemplaar van Fotostaatmasjien bestel? E-pos vir Bibi by bibiboeke@gmail.com.