Carla van der Spuy deel die top 5 ware karakters in haar nie-fiksie boeke

Joernalis en nie-fiksie-skrywer Carla van der Spuy deel staaltjies oor die vyf mees interessante werklike karakters waaroor sy al moes skryf.

 

1.    Dr Irma Labuschagne die bekende kriminoloog. (Mens of Monster en Vrouekeur.)

Sy was een van ons land se voorste kriminoloë en ‘n groot deel van die inspirasie agter Mens of Monster. Sy het geglo dat jy nooitdie mens agter die misdadiger moet miskyk nie want “mens moet respek daarvoor hê dat die Liewe Here hulle ook geskape het.”

Sy het misdadigers wat op parool uit was onder haar dak laat woon. Skelms het deur haar huis geloop, kaste oopgepluk en haar ewe kontant ingelig hoe toeganklik haar huis vir inbrekers is en kapers het haar nuttige wenke gegee oor hoe om kapings te vermy.

Sy was uitgesproke, toeganklik en het begrip vir joernaliste se  spertye gehad. Sy het gerook soos ’n skoorsteen en kleurryke taal gebruik.

Niemand het waarskynlik deurtrapte oortreders beter as sy geken nie. Tog was daar empatie en begrip vir die mens agter selfs die afskuwelikste misdade, omdat sy verder as die feite gekyk het waarmee mens daagliks gekonfronteer word. Sy het probeer om agter die kap van die byl te kom.

 Sy het besef dat baie langtermyngevangenes geen heenkome met hul ontslag gehad het nie. Aan die begin het sy en haar man Lappies hulle gaan haal om in hul huis te bly.”

Vir haar was dit “ ‘n Goddelike avontuur.”

Hulle het egter daarmee opgehou toe hul kinders tieners was. Die kinders het te lief geraak vir hulle.

Sy het in misdadigers se koppe begin klim; hulle gefynkam en ondervra. Dikwels in haar huis.

Sy het vanuit haar smaakvol gemeubileerde huis in die Ooste van Pretoria gesê: “As die bure met hul elektriese heinings en alarms maar net weet wie elke dag hier sit. Hoe hulle met ‘n minibus vol gate en flenters geskiet hier opdaag, maar dis húlle wêreld.”

Sy moes profiele opstel. Dit was haar werk. Sy is gewaarsku dat haar keel nog afgesny gaan word maar sy was nooit bang nie. .

Sy het geglo haar gesin was bevoorreg om ‘n ander kant van die lewe te sien. Uiteindelik kyk jy oppervlakkighede heeltemal mis.

Maar haar objektiwiteit is in die hof getoets.

Sy was ook van mening dat mens uit jou eie verwysingsraamwerk moet klim. Anders kan jy nie iemand anders beoordeel of probeer lees nie. Jy gaan nooit by die waarheid uitkom nie.

Dit was toe ook my motto toe ek later met misdadigers in die tronke gesels het. Sy het ’n groot invloed op my gehad.

Jy kan nie vir hulle sê hulle is monsters maar hulle moet jou alles omtrent hulself vertel nie. Jy moet oopkop wees.

 

 

2.    Lappies Labuschagne: ’n Boer wat 4 kopskote oorleef het ( Plaasmoorde – slagoffers vertel self.)

 

Hy is vier keer vanaf n kort afstand in die kop geskiet en toe sonder seremonie na ‘n ashoop naby die hoenderhokke gesleep waar hy vir dood agtergelaat is.

Maar minder as twee jaar na die wrede aanval op hom op, het Lappies Labuschagne (toe 48) ‘n boer in die Tzaneen-omgewing springlewendig en sonder enige tekens van breinskade voor my gesit.  Dis ‘n wonderwerk dat hy hierdie aanval oorleef het. Hy meen dit was eenvoudig nie sy tyd nie.

Lappies het aan my vertel; “My vrou sê altyd ‘n boer is soos ‘n hoer. Hy weet wat hy doen is verkeerd maar hy hou aan boer.”

Die hoenderdiewe het tot 250 hoenders op ‘n keer gesteel -. gewoonlik teen tweeuur of drieuur in die oggend wanneer jy slaap.”

Op die dag dat hy in die kop geskiet is was hy op pad Tzaneen toe,toesy hoenderwerker hom bel en sê hy moet gou maak en na die verkooppunt toe kom want hy word aangeval. Hy het nie ‘n vuurwapen of enigiets anders by hom gehad om hom te beskerm nie want hy was mos op pad dorp toe.”

Hy is dadelik na die hokke toe en sien glad nie die werker wat die hoenders verkoop nie. Hy merk op dat die kluis se skarnier uitgebreek is en dat die deur van die kluiskamer skuins teen die muur is. Toe hy nader stap sien hy ‘n plastiekhark waarmee hy die deur wou oopstoot.

Net toe klap die eerste skoot en hy word in die arm geskiet.

Hy het besef hulle teiken hom en het begin hardloop maar skielik was sy voete loodswaar.

Hy het egter in die verkeerde rigting gehardloop en het besef dat hy moet terug hardloop hek se kant toe sodat hy by die teerpad kan uitkom. Hy het so ‘n draai gehardloop en een van die aanvallers met dieselfde arm geslaan as waarin hy geskiet is. Toe voel dit vir hom asof sy bene onder hom padgee. Een man het op sy rug gespring en hy het op die grond geval. Die ander mans het hom daarna op die grond vasgedruk. Hy het probeer om op te kom maar elke keer as hy homself opdruk, sien hy hoe sy arm buig. Hulle het hom agter in sy kop geskiet .”

Nog drie skote het gevolg terwyl hy op sy maag gelê het.  Al drie in sy agterkop. Dit het vir hom gevoel asof hulle hom met ‘n hamer op die kop slaan.”

Hy kon sy aanvallers se taal verstaan en het gehoor: “As hy nie dood is sal hy doodgaan.”

Toe maak hy of hy dood is. Hy het hom slap gehou.  

Die booswigte het hom deursoek en sy selfoon en sigarette gevat.  Steeds salig onbewus daarvan dat Lappies nog geleef het.

 Hy het my gevra of ek wil sien waar die koeëls in en uit gegaan het en sy hare platgetrek. Toe sien ek dit met my eie oë. Daar was ses duidelike merke wat amper soos haelskade lyk – twee van die koeëls is skrams by sy kop in en uit. Die ander net een keer skrams deur.

Sy mening was dat daardie ouens nie kon skiet nie.

 Nadat hulle hom deursoek het, sleep hulle hom aan die arm na die vullishoop toe. En daar smyt hulle sy “lyk” eenvoudig tussen die stukkende bierbottels en gemors onder die vullis in.  Net sy voet het uitgesteek.

Dit was ‘n stryd om asem te haal want hy het heeltyd die asgat se swart roet in en uit geasem.”

 Terwyl hy daar lê haal hulle die kluis uit. Hy het homself orent gebring en wou opstaan en huis toe gaan, maar besef toe met ‘n skok dat hy sy aanvallers se stemme hoor .Hulle het ongeveer 10 treë van hom af gestaan en gesels .

Hulle was wraggies nog nie weg nie. Toe hy hulle sien het hy vinnig weer tussen die vullis in die asgat teruggesak en so tussen die gemors vir hulle geloer.

Eers toe hulle buite sig was,stap Lappies dadelik na sy bakkie toe.  

Sy arm was te seer om die bakkie te bestuur

Teen daardie tyd het sy dogter wat deur ‘n vrou ingelig is reeds die Polisie gebel en ‘n klomp boere het hulle na die toneel toe gehaas.

Altesame 25 bakkies  het daar opgedaag. Hy is sommer met ‘n bakkie hospitaal toe geneem. ‘n Ambulans sou na ‘n ewigheid opdaag.

.Dit was egter sy skouer en sy arm wat agterna die grootste probleme gegee het.”

Hy het vir my gesê :”Jy skiet nie ‘n boer in die kop nie.Jy skiet hom in die hart.”

By die hospitaal aangekom, hetLappies vir hulle gesê hy is in my kop geskiet. Al die patrone is in en uit sy kop. Toe neem hulle hom na die X-straal afdeling toe. Daar is bevind dat hy geen kopskade het nie. Sy skedel was nie eers gekraak nie.”

Sy arm is gespalk en na 2 dae is hy uit die hospitaal ontslaan.

Intussen is hy doodgelukkig met sy besluit om met Engelse komkommers te boer en met perdetelery voort te gaan. Geen diefstal nie.

 Dit het lank geduur voor sy arm herstel het. Sy arm is geopereer en ‘n plaat en 14 skroewe is in die arm geplaas. Sy arm was lank in gips en hy het van die beweging in sy arm verloor.

Maar sy kop is reg.

 

3.    Amor van der Westhuyzen – (Mishandel, Misbruik, Misken – Joey Haarhoff was my ma.)

Haar berugte ma het toegelaat dat haar enigste dogter mishandel, misbruik en misken word. Sy is boonop jare lank asdie dogter van een van Suid-Afrika se berugste misdadigers gebrandmerk.

Sy en haar man van 31 jaar Wessie, moes van plek tot plek te vlug en het alles te verloor net omdat sy 'n bloedband met Joey Haarhoff gehad het-  Joey wat in dieselfde asem as die pedofiel en vermeende reeksmoordenaar Gert van Rooyen genoemword.

Hulle is selfs van die grudade wat die paartjie na bewering gepleeg het verdink en na uitkenningsparades gesleep. En dit terwyl hulleheeltemal onskuldig was.

Amor het heelwat lig gewerp op haar ma wat glad nie die onderdanige en gedienstige huisvroutjie was wat in Gert se bose kloue beland het wat met haar kop gesmokkel het, soos so dikwels in die media beweer is nie. Joey was van haar babadae af ‘n monster.

Amor het teenoor my erken dat sý in die tronk kon gesit het. Al die vroue met wie ek in die tronk gesels het vir Bloed op haar hande het in dieselfde omstandighede as sy grootgeword.. Hierdie vroue het geweldsmisdadigers, prostitute, dwelmslawe of kleptomane geword. Baie van hulle het gemoor.

Amor is die eerlikste mens wat ek ken en het my alles vertel. Sy het byvoorbeeld vertel hoe sy 'n mede-student in haar verpleegdae tot in die waakeenheid van 'n hospitaal geslaan het. Die student kon dood gewees het. Sy het gesteel en handevol Valiumpille gedrink. Daar was soveel pyn en woede in haar opgekrop wat deur haar liefdelose huislike omstandighede veroorsaak is.

Tog het sy na dekades van bloedsweet, studies, terapie en danksy haar geloof en haar man  se ondersteuning die sterk vrou en inspirasie geword wat sy vandag is -  ‘n toegewyde ma en ouma en 'n gerespekteerde sakevrou op Thabazimbi waar sy met ysere wilskrag 'n koffiewinkel met R300 in die kasregister tot 'nsuksesvolle onderneming opgebou het.  Sy het 'n graad in Teologie.

Ja, sy lyk nogal na Joey en sy het ook baie van Joey se talente geëerf. Maar sy het besluit sy gaan nie soos haar ma wees nie.

Sy word oorval met briewe van ander gemolesteerde vroue vir wie daar nou hoop is.

Haar tragieseverhaal het ‘n gelukkige einde. Sy het liefde gevind. Sy weet wat haar naam en liefde beteken. Uiteindelik.

 

4.    Lang vonnis nadat 4 haar man doodslaan ( Bloed op haar hande – vroue agter tralies)

 

Vyftien jaar.Dis wat Dorothy (skuilnaam) gekry het nadat sy haar man eintlik net wou “skrikmaak” omdat hy rondgeslaap het en geld by haar gesteel het. Maar pleks daarvan dat een man by hul huis opdaag om hom ‘n bietjie rond te skud, daag daar onverklaarbaar vier op en slaan hom morsdood met ‘n piksteel.

Die eens suksesvolle sakevrou ontken egter ten sterkste dat sy die brein agter ‘n huurmoord op haar man was. Nooit wou sy hom dood gehad het nie. Die gedagte was dat hy net twee keer oor sy sondes moes nadink. Maar toe het dinge net verskriklik skeefgeloop…

Haar eerste man is aan malaria dood en toe trou sy weer. Haar tweede man (die een wat vermoor is) was die liefde van haar lewe.

Hy het egter gewelddadig teenoor haar begin optree en by die meisies wat by die tavern gewerk het begin aanlê.

Toe sy hom daaroor konfronteer en by hom wou weet hoekom hy dit gedoen het, was sy houding net ‘n nonchalante;”Wat daarvan?”

Ek het opgemerk  dat sy steeds haar trouringe dra. Albei trouringe – een van die man wat vermoor is en een van die man wat darem aan natuurlike oorsake dood is.

Sy ontken dat sy mense gehuur het om haar man uit te haal en sê net sy het met ‘n man gaan praat en hom gevra om haar man “net ‘n bietjie skrik te maak”. Hom ‘n bietjie rond te skud sodat hy haar geld teruggee. Maar ongelukkig het hulle hom te hard geslaan.

Dis al wat sy wou doen. Sy wou hom geen leed aandoen nie, vertel sy.  Maar toe neem hy ander mans saam met hom. Daar was vier van hulle.  Al 5 van hulle is weens moord gevonnis.

Sy het maar besluit om skuldig te pleit “want aan die einde

van die dag was hy steeds dood.”

Sy het vertel dat sy vir ‘n N4 in sake administrasie studeer en dat sy terselfdertyd ook Teologie deur die Universiteit van Pretoria studeer. Sy wil ‘n pastoor wees en vroue teen cheaters waarsku.

Dorothy is ‘n go-getter.’n Raakvatvrou. Ek sien dit ook later toe ons ‘n Kersete agter tralies by die Middelburg gevangenis aanbied. Sy het daardie dag oral die leiding geneem. Met die koor, met die dansitem toe die gevangenes opgetree het en selfs in die kombuis toe kos vir die gaste opgeskep is. Lui is sy nie.’n Ware voorslag en voorbok.

Daar skort niks met Dorothy se selfvertroue nie.

Sy voorsien geen probleme as sy vrygelaat word nie. Haar onderneming – die tavern – se deure is wel toegemaak, maar wat keer haar om weer ‘n tavern oop te maak? Sy sal eenvoudig met die onderneming voortgaan.

Op ‘n vraag of dit nie probleme sal skep om ‘n pastoor te wees en terselfdertyd die baas van ‘n tavern te wees nie, lyk sy ietwat verbaas.

Nooit gesien nie!

Dalk, doen ek aan die hand, kan sy sommer in die tavern preek, wat. Twee vlieë in een klap. Einste, het sy saamgestem en met my vertrek gesê ek gaan haar nog op televisie sien.

 

5.    OPROEP VAN ’N MOORDENAAR: RUBRIEK MEDIA 24

Ek ontvang eendag uit die bloute ‘n call me van Sipho (skuilnaam) een van ’n groep van 11 moordenaars en geweldsmisdadigers in ’n gevangenis in Noordwes Provinsie met wie ek onderhoude gevoer het vir navorsing vir Mens of Monster. In die tronk se kapel nogal.

Dan raas ek met hom en lig hom in dat hy goed weet hy mag nie ’n selfoon in die tronk aanhou nie maar net van ‘n tiekieboks af bel en dat hy nooit parool gaan kry nie.

Dan vertel hy my dat hy uit is en ek wonder of hyontsnap het.

Ek onthou so duidelik soos daglig dat Sipho twee jaar vantevore in ‘n AVBOB-stem aan my vertel het dat hy 90 jaar lank vir onder meer moord en verkragting moet sit.

Op ’n vraag wat hy die meeste van die lewe daar buite mis, het hy nog geantwoord; “om kinders in die sand te sien speel.”

Later het ek gehoor dat sy hele gesin onder verdagte omstandighede verdwyn het en dat hy dit nooit by die Polisie aangemeld het nie…

’n Jaar later voor die oproep tydens ’n tweede onderhoud lig hy my in dat hy nou skielik 45 jaar lank moetsit wat natuurlik steeds lank is.

Hy is uit, lig hy my na die call me in. En toe volg die rede vir die oproep.

“Het jy vir my werk? Ek kan in jou tuin kom werk”.

Ongelukkig het ons reeds tuindienste al verdien misdadigers soms ‘n tweede kans. Dit kom egter daarvan as jy vriende op hoë en lae plekke het. Nouja misdadigers is nie juis vir hul integriteit bekend nie.

Ek vind later by my DKD-kontak uit dat Sipho  steeds agter slot en grendel sit. Hy dra steeds sy oranje catsuit. En so gaan dit bly. Hy is net na ’n ander tronk oorgeplaas. Hy het natuurlik onwettiglik ‘n selfoon in die hande gekry.

Hy was omtrent net so ‘n kansvatter as die kaper wat my die dag voor my bekendstelling in die tronk van ‘n tiekieboks af gebel het en daarop aangedring het dat hy en die ander geweldsmisdadigers met wie ek gesels het my launch bywoon aangesien hy en sy tjommies ‘n belangrike deel van my boek uitgemaak het.