Elmari Rautenbach se beste opbeurende boeke

Elmari Rautenbach is 'n boekjoernalis en staan aan die stuur van die Stellenbosch Woordfees se boekeprogram. Elmari se liefde vir boeke is aansteeklik. Hier deel sy die boeke wat haar opbeur.

Daar is niks soos ’n boek om my op te beur, of net weg te voer na ’n ander, beter wêreld as ek die dag régtig blou voel nie. Op skool was daar boeke soos Anne of Green Gables en Little Women – almal waar die heldin vreeslikswaar gekry het, maar wat ek tot vandag toe onthou, is veral twee laerskoolboeke: Alba Bouwer se Abdoltjie, ses verhaaltjies oor ’n Maleiertjie van die ou Kaap (1958), met illustrasies deur Katrine Harris, wat my ganske kinderherinneringe van die Kaap ingekleur het en waarskynlik my eerste ervaring van weemoed was. En dan die grys met-linne-oorgetrekte Die Kamma-Storieboek deur ’n domineesvrou, Helene Pienaar-De KlerkVir ’n verkeerdeveer-kind was dié fantasie van ’n ewe beneukte meisietjie wat haarself moet bewys in ’n anderwêreldse koninkryk die allerbeste ontsnappingsvoertuig nóg – veral as jy dit kon lees op ’n breë sitkamervensterbank, agter ’n gordyn versteek en met ’n sak rosyntjies tussen jou voete.

Later in my lewe het dié topvyf gevolg

Herman Wouk se Youngblood Hawke (1962)  ’n storie van ’n jongman wat die steenkoolmyne van sy kindertyd die rug keer om ’n skrywer te word in New York, sy opgang en sy val. Vir ’n onsekere letterkundestudent was dit amper te veel; dit wring jou hart; dis soos ’n sepie, maar net beter. Ek het dit ontdek toe ek in my oorlogfase was en Herman Wouk se War and Remembrance deurgedraf het. Dit was ook die boek waaroor ek en my toekomstige man op ons heel eerste afspraak gepraat het, en besef het ons hou van dieselfde dinge…

Eben Venter se Ek stamel, ek sterwe (1996) – ek het dit gelees na die dood van ’n baie goeie vriend aan Vigs en insig gekry in wat ’n bitter moeilike afskeid was

Marita van der Vyver se Wegkomkans (1999) – dit was ’n vreemde tyd: Ek was noodgedwonge vryskut met drie klein kindertjies en het gevoel ek verdrink. Toe lees ek hierdie boek oor ’n groep vriende wat probeer vrede maak met die middeljare en sin van hoe hulle eie lewens uitgedraai het – soms nie altyd hoe hulle dit vir hulle voorgestel het nie – en het ek  ’n ongelooflike gevoel van broederskap ervaar 

 

Nicholas Evans se The Horse Whisperer (1998) – as ’n ma met ’n moeilike tienerdogter toe én ’n moeilike ma was hierdie een van dáái boeke waar jy later sommer jou neus aan die laken snuit van pure lekkerhuil… 

Jonathan Franzen se The Corrections (2011) – daar is niks wat jou soveel beter laat voel oor jou eie chaotiese gesinslewe as om ’n boek te lees oor ander mense se chaotiese gesinslewe nie. En hierdie laat jou saam lag en saam ween.