Carin Krahtz kies die lekkerste (en slegste) onderwysers in boeke

Juffrou Brom in Carin Krahtz se jeugboek Elton amper famous April en Juffrou Brom is ‘n heerlike, inspirerende onderwyser-karakter met ‘n innige liefde vir haar studente. Carin is self ‘n onderwyser met ‘n groot passie vir opvoeding en boeke, en ek het vir haar gevra watter onderwyser-karakters in ander skrywers se boeke ‘n groot indruk op haar gemaak het.

Die skoolhoof heel bo aan my lys is natuurlik die gruwelike Miss Agatha Trunchbull in Roald Dahl se Matilda. Daarmee saam gaan die heerlike wete dat Dahl erken het die mislike onderwysers uit sy eie skooldae het karakters in sy boeke geword. Ek hou dit soms vir my eie leerders as 'n wortel voor die neus: bewaar die herinneringe van onderwysers wat nie so gaaf met jou is nie (insluitend juffrou Carin op haar kwaai dae) - dit word dalk skietgoed wanneer jy eendag 'n beroemde skrywer is!

Illustrasie deur Quentin Blake, uit Roald Dahl se Matilda.

Illustrasie deur Quentin Blake, uit Roald Dahl se Matilda.

Uit F.A. Venter se roman Kambro-kind onthou ek nie soveel van die Engelse onderwyseres (Miss Eagleton) wat by die plaasskooltjie kom skoolhou het nie, maar wel hoe sy die vertellertjie se hele lewe in duie laat stort het. Hy was vir haar oneindig lief. Toe sy weggaan, het sy belowe om vir hom 'n geskenk te stuur. Hy het vir 'n "motorbaaik met 'n side-car en 'n poeliesmantjie daarop" gevra, want hy het so een op Britstown in 'n winkel gesien. Weke lank het hy opgewonde vir die poskar gewag en is hy elke keer leëhande daar weg. Tot op 'n dag toe die pakkie kom en hy uitvind sy het vir hom 'n Bybel in plaas van die begeerde motorbike gestuur. Daardie kinderlike teleurstelling, daardie opregte woede, daardie ervaring van iets gelykstaande aan hoogverraad is ongeëwenaard in terme van kosbaarheid!

Juffrou Brom uit Elton amper-famous April en juffrou Brom lê my uiteraard na aan die hart. Ek vertel altyd vir die kinders van die heks van 'n juffrou wat op laerskool vir my Engels gegee het. Ek het elke middag in trane huis toe gegaan, sy was so kwaai. Toe ek aan die einde van my matriekjaar die beste punte in die provinsie vir Engels kry, het ek vir die eerste keer besef dat sy - op 'n baie vreemde manier - baie vir my akademiese toekoms moes omgegee het. Dan sê ek vir hulle om met nuwe oë na kwaai onderwysers te kyk: baie keer is dit die strenges wat JUIS omgee. Skoolhou leer jou om jouself soms harder te hou as wat jy is, want kinders tel gou op as mens witbroodjies het. Ek glo juffrou Brom weet reeds met die intrapslag dat sy vir Elton moet uitkyk - akademies, sowel as maatskaplik. Maar sy durf hom nie voortrek nie. Vir 'n kwaai juffrou wat in haar persoonlike lewe deur diep waters gaan (waaroor haar leerlinge net onwaarhede versprei) kan sy nie te sleg wees nie: aan die einde van die boek kry sy Elton deur graad 7 EN sy help hom moed skep vir die toekoms.

 

In die vierde plek moet ek "kroek" en 'n draaiboek/film insluit: Dead Poets Society met Robin Williams is een van my gunstelinge. Ten spyte van die soetsappighede en die voorspelbare einde waarin Mr Keating afgedank word, is dit die oordrag van passie vir letterkunde van onderwyser na leerder iets waarvan taalonderwysers in die regte lewe net kan droom. Dis net heerlik om hom te hoor sê: "We don't read and write poetry because it's cute. We read and write poetry because we are members of the human race. And the human race is filled with passion." By my skool het ek 'n skryfklub begin in 'n kleine poging om saadjies van passie vir die lettere in laerskoolharte te plant. Wie weet wat nog daaruit gaan groei? Ai, en hulle wil almal so graag dig! Dan hou ek Daniël Hugo se vermaning voor: eers 5000 gedigte lees voor jy jou hand aan een waag. Onlangs moes ons bv. eers bietjie oor Adam Small huil en 'n paar van sy gedigte lees om die horisonne te verbreed.

Robin Williams as Mr Keating in Dead Poet's Society.

Robin Williams as Mr Keating in Dead Poet's Society.

Laastens is daar natuurlik die aweregse Mr Edly in Spud, wat ek sekerlik ook meer geniet vanweë John Cleese se vertolking van die karakter in die filmweergawe. Vir my is die les uit sy manier van doen dat mens nie moet miskyk dat rolmodelle vir die lettere dalk uit vreemde oorde kom nie. Ek self het op universiteit klas gehad by dr Benoni de Haeck, die Belgiese dramaturg. Hy het menige dae passievol vir ons "passasies" uit dramas voorgelees dat die spoeg spat - dikwels sommer in tale wat ons nie magtig was nie. As jong studente het ons gelag; vandag begryp ek hy het saadjies van passie gesaai.