Onderhoud: Elizabeth Wasserman, skrywer van Die Dingesfabriek

Elizabeth Wasserman is waarskynlik een van die coolste skrywers op die aardbol. Hoeveel skrywers ken jy wat ook patoloë en professors is?  Elizabeth se Dingesfabriek-boeke is vanjaar met die MER-prys vereer, en ek het vir haar ’n paar vrae oor die boeke gevra.

Elizabeth Wasserman. Foto: http://www.elizabethwasserman.co.za/

Elizabeth Wasserman. Foto: http://www.elizabethwasserman.co.za/

Waar kom jou passie vir stories vandaan, en hoe sluit dit aan by jou ander beroep in die mediese wetenskap?

Ek is een van die bevoorregte mense wat met boeke en stories grootgeword het. Wat is die lewe sonder 'n storie? Hoe moet ons sin maak van enigiets, en hoe moet mens enigiets onthou as dit nie in die raamwerk van 'n storie pas nie?

Dit geld ook vir die wetenskap. Alles is op die ou einde maar deel van 'n storie. Wetenskap sonder 'n storie gaan geen verskil aan die mensdom maak nie.

Alles loop uiteindelik saam om 'n interessante geheel te vorm.

Waar het jy aan die karakters Jannus en Kriek gekom? 

Tweelinge het my nog altyd laat wonder. Jannus en Kriek, soos die meeste van my ander karakters, was op 'n dag net daar - bewoners van my verbeelding. Hulle is hibriede van baie ander kinders wat ek deur die jare leer ken het (dalk selfs die kind wat ek was), en hulle moet werk as "avatars" vir lesertjies om 'n wonderlike wereld vol verassings en snaaksighede te verken.

Illustrasie deur Astrid Castle. 

Illustrasie deur Astrid Castle. 

 

Wie is jou ideale klein leser? Het jy iemand in gedagte wanneer jy jou stories skryf?

Nuuskierige agies. Avontuurlustige siele. Outjies wat weet die groot wereld wag - net vir hulle.

 

Het jy illustrasies in gedagte wanneer jy die boek skryf, of kom dit altyd eers later? 

Noudat ek vir Astrid ken en ek weet hoe sy werk, vang ek myself dat ek soms spesiaal iets vir haar skryf wat ek weet sy sal graag wil teken. Sy moet baie weird wees, want sy weet ook altyd wat ek in gedagte het :)

Illustrasie deur Astrid Castle

Illustrasie deur Astrid Castle

 

Watter kinderboekskrywers is jou helde?

 Jan Rabie, Astrid Lindgren, Nils-Olof Franzén, Lewis Carroll (vanselfsprekend), Harry Horse oftewel Richard Horne, Chris Riddell, Roald Dahl (natuurlik), dr Seuss (natuurlik), René Goscinny, Hergé (sy regte naam was Georges Remy) ... om die paar te noem wat eerste in my gedagtes inspring ...

Ek lees steeds verder.


 

 

Elizabeth se nuwe boek Elf dae in Parys is nou beskikbaar.