BIBI*lioteek: The Life-changing Magic of Tidying Up - Marie Kondo

Dit was regtig vir my maklik om die één boek te kies wat my lewe absoluut verander het. Baie boeke het al vir my verskillende klein dingetjies geleer, maar Marie Kondo se "opruimboek" The Life-changing Magic of Tidying Up het my gehelp om een van my grootste probleme te oorkom: opgaar!

Ek was 'n gesertifiseerde pak-rot totdat iemand vir my hierdie boek aanbeveel het, en werklik, dis 'n wonderkuur vir diegene wat sukkel om van goed ontslae te raak, en om sentimentele redes vasklou aan jare se opgegaarde gemors. 
 

Marie Kondo se raad is prakties en reguit, en die metode wat sy voorstel vir die uitsoekproses is verbasend eenvoudig. Maak net genoeg tyd vir een GROOT skoonmaaksessie - dit raak verbasend maklik om afskeid te neem van goed wat agter in kaste, onder beddens, in laaie en boksies rondlê. Hoe later hoe kwater - ek het uiteindelik twee bakkievragte vol opgaargoed uitgegooi, en dis nie net fisieke ruimte wat leeggemaak word nie - mens se gemoed voel ook heelwat ligter as jy van al hierdie onnodige bagasie ontslae kan raak.

 

Lees hier 'n uittreksel uit Marie se boek. As die ding werk soos hy moet, sal jy sommer na die tyd van die boek ook ontslae raak.

Let wel: Marie Kondo beveel wel ook aan dat mens jou boeke weggooi as jy klaar gelees het. Alhoewel ek dink sy is wonderlik, en alhoewel haar boek my gehelp het om ruimte in my huis leeg te maak, het ek nog nooit 'n boek weggegooi nie. Die ruimte was wel nuttig want ek kon nog boeke daar pak!