BIBI*LIOTEEK: NUWE STEMME

In hierdie week se aflewering van die bibiLIOTEEK, wil ek jou graag verwys na Tafelberg Uitgewers se Nuwe Stemme-reeks. Daar word so elke vier jaar of wat een van hierdie versamelbundels uitgegee, wat die werk bevat van ontluikende digters wat nog nie genoeg gedigte het  vir 'n selfstandige debuutbundel nie.

Elkeen van die Nuwe Stemme-bundels bevat gedigte deur om en by 20 digters, en baie van die digters wat in die bundels verskyn het, het na hulle debute in Nuwe Stemme eindelik ook met indrukwekkende bundels van hul eie vorendag gekom. 

Die Nuwe Stemme-bundels is 'n wonderlike manier om poësie te lees wat oor eietydse onderwerpe gaan, en om 'n verskeidenheid stemme aan die woord te hoor. Buiten vir digters soos Ronelda Kamfer, Danie Marais, Loftus Marais, Hilda Smits en Jasper van Zyl, wat almal bundels van hul eie gepubliseer het na Nuwe Stemme, kan jy ook rariteite lees soos gedigte deur Toast Coetzer en Erns Grundling, wat beter bekend is as joernaliste, en gedigte deur Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar-faam.

Van die ouer Nuwe Stemme-bundels sal jy seker net in tweedehandse winkels opspoor, maar as jy een sien, koop hom dadelik - dis 'n lekker inleiding tot die digkuns, selfs vir diegene wat nie gewoonlik van gedigte hou nie.