ALANKA CRAFFERT

Alanka Craffert is nie ’n tipiese plaasmeisie nie. Van kleins af het haar enorme verbeelding gesorg dat sy haarself pens en pootjies in ander wêrelde plaas. Soms sou sy singend op ’n swaai sit, ’n hanslam op die skoot. Ander kere sou jy haar weer met ’n kamera in die hand betrap waar sy ’n maatjie of familielid op ’n video verewig. Sy het reeds as laerskoolleerder kortverhale oor vriendelike (dog vurige) drake met polkadots geskryf of haarself in haar verhaal ingeleef as ’n openbare swembad wat kliphard lag wanneer mense se tone sy “bodem-magie” kielie. Storievertel, vermaak en kuns is wat Alanka van kleins af gelukkig maak. Sy het al by verskeie kunstefeesverhoë (KKNK, Woordfees, Aardklop) haar lyf aktrise gehou, in ʼn rolprent of twee gespeel en is tans besig met die vestiging van haar eie kreatiewe konsultasiefabriek – “DIVAlanka”. Alanka verdien tans haar brood en botter deur vir Tixsa (ʼn privaat, aanlynkaartjiebesprekingstelsel en eenstop-geleentheidsbestuur-en-toegangsbeheerstelsel) te werk. Wanneer die wêreld haar druk, ontsnap sy met ’n glas wyn terwyl sy perspektief vind in ’n Liewe Heksie-boek of haar ander Bybel, die Groot Verseboek.

Een boek wat jy nie kon neersit nie:

Voorvaders kan vlieg, sê Delores – Reinet Nagtegaal

 

Een boek wat jy nie kon klaarlees nie:

 “Audrey Blignault: uit die dagboek van 'n vrou”  - Marié Heese

 

’n Boek wat jou laat huil het:

Man’s search for meaning deur Victor E. Frankl 

 

’n Boek wat jou hardop laat lag het:

 Onse Hymie – Ettienne Le Roux

 

Waar lees jy?
Oral waar ek ‘n tydjie kan afknyp. Dit waarmee ek my besig om brood & botter te verdien, vereis dat ek baie reis. Ek het dus altyd ‘n boek in my handsak, laptop-sak of motor. Ek pluk ‘n boek enige plek in die publiek uit soos sommige ma’s wat sommer so borsvoed in die publiek man. Soms is dit in restaurante vir kliëntebesoeke, ander kere in wagkamers, soms onder ‘n sonsambreel by musiekkonserte – maar my gunsteling plek is op ons familie-plaas waar ek die berg agter die plaashuis kan uitklim en op my droomklippe kan sit en lees.

 

Wat lê tans op jou bedkassie?

Mits deze wil ek vir jou sê – Briewe van Hennie Aucamp

Die Groot Verseboek

Not that kind of girl deur Lena Dunham

Verlorenkop – Celeste Fritz

Daar’s vis in die Punch – Jackie Nagtegaal

Die beste boek wat jy in 2016 gelees het:

 (Ag nee man… hoe kies mens dan nou) As ek reeegtig moet kies, A year of yes deur Shonda Rhimes

 

Die lekkerste kinderboek:

 Sussie Seekoei red ’n apie,  en natuurlik enige van die LIEWE HEKSIE boeke!

 

’n Boek wat jy vir ‘n boekklub sou aanbeveel:

Klimtol – Ettienne van Heerden

 

’n Boek waarna jy uitsien:

Goudduiwel deur Duane Asslett (En natuurlik ‘n ene Bibi se bundel in November)