YVONNE BEYERS

Naam: Yvonne Beyers

Beroep: Joernalis

Gunstelingaanhaling uit ’n boek:

 “He was a vacuum masquerading as an enigma.” – uit Martin Amis se Money

 

Kort biografie:

Yvonne is ’n assistentredakteur by Huisgenoot en aan die stuur van Huisgenoot en YOU se span in Johannesburg. Sy was voorheen die redakteur van By, die Saterdag-bylaag van Beeld, Die Burger en Volksblad. Sy het as joernalis stories gejaag vir Huisgenoot, Insig, Beeld en Die Burger en was die aanbieder van Flits op kykNET. Sy is die ma van twee seuntjies – die een hou van stories en boeke, die ander een van balle en honde.

Een boek wat jy nie kon neersit nie:

 A.S. Byatt se The Children’s Book.

Een boek wat jy nie kon klaarlees nie:

 Thomas Pynchon se Gravity’s Rainbow.

’n Boek wat jou laat huil het:

 Die boek wat my pa geskryf het oor sy visvang- en ander herinneringe, Waaraan ek dink as ek terugdink.

’n Boek wat jou hardop laat lag het:

 Die tweede boek in Karl Ove Knaussgaard se My Struggle-reeks, A Man in Love. Dit het my laat dink aan episodes uit my eie lewe (en my laat verstaan hoe my man soms voel wanneer die huishoudelike chaos van ’n lewe met twee kinders en ’n moeë vrou om hom afspeel.)

Waar lees jy?

 In die ou dae: Oral. Deesdae: Saans in die bed, wanneer almal in die huis slaap.

Wat lê tans op jou bedkassie?

 ’n Stapel New Yorkers en Huisgenote en The Kingdom and the Power, Gay Talese se wonderlike boek oor The New York Times.

Die beste boek wat jy in 2016 gelees het:

Bogenoemde. My gunstelingboek van alle gunstelinge (daar is sowaar so iets) is Roberto Bolano se kortverhaalbundel, Last Evenings on Earth.

Die lekkerste kinderboek:

 My ma het ’n liefde vir stories en lees by my aangewakker en ek het as kind elke boek in die kinderafdeling van Port Elizabeth se biblioteek gelees. Maasdorp was my lewe, en ook die Anne of Green Gables-reeks. My vierjarige seuntjie se huidige gunsteling is die Asterix-boeke. Hy vra kort-kort oor die een of ander karakter: “Hoekom lyk hy so kwaai?”

’n Boek wat jy vir ’n boekklub sou aanbeveel:

 Harry Kalmer se ’n Duisend Stories oor Johannesburg.

‘n Boek waarna jy uitsien:

My vriendin Bibi se debuut-digbundel, Fotostaatmasjien. (Hahahahaha! Ek belowe ek het haar nie betaal om dit te sê nie – Bibi)